Wednesday, 23 May 2007

Grootvallei Jag - Tolwe Mei 2007

Soos met elke goeie jagtrip het hierdie een ook sy ontstaan reeds 'n paar maande voor die 18de Mei 2007 gehad.

Van nature is die manne baie gretig om die beplanning so deeglik moontlik te doen. So het ek en Oom Chris Dicque, my goeie vriend van Potties, weer hierdie jaar ons beplanning al in Februarie begin. Dis gewoonlik 'n formele vergadering met pen en papier waar ons besluit wat om saam te neem en ook wie saamgaan. Die vergadering is altyd 'n reuse sukses, aangesien ons altyd so 'n "ietsie" gebruik tydens die beplanning. In ons geval is dit altyd ons getroue vriend Red Heart en Coke! Vir die ouens wat dit nie doen nie kan so 'n trippie in 'n nagmêrie ontaard, want ou kan byvoorbeeld te min ys saamneem!

Ons het nou al 'n paar sulke beplanningsessies deurgewerk. Wanneer dit by die proviant kom dan steek ons ook nie lyf weg nie. Die menu is nie te ingewikkeld nie maar ons het ook nog nooit honger gely nie.

Ons maak gewoonlik voorsiening vir 'n koffie en Ouma beskuit of Weetbix start. Van ons drink dan ook sommer woema goed soos Bioplus en Prohep. Party ouens is gewoonlik so 'n bietjie laat as gevolg van die Coke!

Daarna gaan ons jagveld toe en kom eet dan 'n lekker brunch. Dis gewoonlik pap, eiers, gebraaide wors en oorskiet van gisteraand. As ons eers so 'n dag of twee gewerk het dan eet ons pap en lewer - daar is niks lekkerder as vars Koedoe lewer met Oom Chris se resep voorberei saam met pap nie.

Julle moet dit gerus probeer - dit werk so:

Maak die lewer skoon. Week dit in warm water vir so 20 minute tot 'n halfuur om die velletjie los te maak. Verwyder die velletjie(membraan). Sny die kanale/are uit. Sny nou lekker stukke omtrent so 2-3 cm duk. Dis goed as almal eweredig gesny word anders sal party voor ander gaar wees.

Plaas die stukke lewer in 'n skottel en besprinkel met bruin asyn. Gooi nou sout, rooi peper en gemaalde swartpeper oor die lewer. Soos 'n mens jou braaivleis sal speserye gooi. Mens kan ook so 'n paar druppels Worcestersous bygooi. Die spulletjie moet nou vir so 'n halfuur of langer staan en profeteer voor dit gebraai word.

Skil so 6 groot uie (of meer as jy meer as een lewer het), sny middel deur en sny halwe ringe. Nie te fyn nie want dan braai dit weg.

Hou gemaalde knoffel (die vars tipe) byderhand.

Verhit sonneblom olie in 'n pan of driepoot pot (vir die vuur). Braai die uie saam met knoffel ('n opgehoopte teelepel vir ons) tot dit goed gaar is. Ons sê gewoonlik tot die "wind" uitgebraai is, dis nou wanneer dit nie meer kan kraak as jy dit byt nie.
Skep die uie uit in 'n aparte houer.

Die oorblywende kookolie in die pan/potjie is nou lekker gegeur en gereed vir die lewer. Onthou dat die pan so medium warm moet wees. As jy die lewer insit moet dit lekker sis. Die groot geheim van lewer is om dop te hou wanneer die bloedjies bo uitslaan, dan moet dit omgedraai word. Na die lewer een keer aan elke kant gebraai het, gooi jy die uie en knoffel nou weer terug. Moenie die lewer te gaar maak nie. Om seker te maak kan jy 'n stukkie sny. Daar moet altyd nog so 'n ligte pienkerigheid of voggie wees as jy klaar is, anders is die goed droog en onsmaaklik.
Ek sit nooit die deksel op nie want dan stoom die goed te gaar, voeg maar so 'n bietjie water by as die lewer te droog braai - eers na die uie bygevoeg is.

Soos julle kan sien gooi ons nooit room by nie want dan proe mens naderhand nie meer die lewer nie. Dis julle eie keuse

Nou ja as die soldate se mae vol is dan eet ons eers weer vanaand. Dis ook gewoonlik pap en 500g (Rump of T-bone) of varktjops en skaapribbetjie of peri peri hoender en boerewors saam met jagsous ala moer-by-sous. Dis nog 'n ander resep wat ek volgende keer vir julle sal gee. Ons is meer van die karnivoor tipe en eet gewoonlik hoeder as ons lus raak vir groente. As ons vir 'n week gaan jag dan werk ons gewoonlik iewers 'n potjiekos in met groente. (Dis nou regte groente)

So het ons nou deur die hele proses gegaan om ons trip te beplan vir proviant. Die res is jou eie persoonlike goed, jou jagmes, hoed, jou kettie, "liksensie" en permitte. Moenie die drinkgoed en Coke vergeet nie want dit kan baie koud word in die winter, selfs langs die kampvuur.

So het die 18 Mei 2007 ook aangebreek. Ek vertrek 06h30 om Oom Chris en Oom Pieter by die Gilead / Steilloop kruising te ontmoet teen 08h00. Hule ry van Potties af en ek van Pietersburg af. Daarvandaan ry ons saam tot so halfpad daar by die groot boom. Hier stop ons noodgedwonge om voertuie te inspekteer en om seker te maak dat die Coke nie verslaan is nie. Ons check sommer dieselfde tyd ook of die Rum en Whisky nog heel is. As dit wel heel is dan breek ons die seel om die inhoud te inspekteer. Net so 'n vlugtige toetsie - moenie te lank check nie!

Naby die plaas het ons so 'n lekker vet pofadder in die pad gekry, hy was lekker astrant en opstandig. Moenie worry nie hy lewe nog.

Uiteindelik so 185Km van Pietersburg af arriveer ons op die Plaas Grootvallei. Ek kan sien dat die manne hier trots is op hulle plek want 'n mooi hek onder 'n grasdakkie groet ons. Nie vêr van die hek af is die blyplek. Ons word gegroet met 'n kampvuurtjie wat reeds brand en 'n donkie wat reeds gestart is. Dis voorwaar pragtig. 'n Mooi lapa en twee chalets. Genoeg slaapplek vir vier manne. Elke chalet is toegerus met sy eie toilet en warmwater stort. Die plek is lekker met tot hangplek vir jou klere. Agter die deur hang 'n flits en daar is gaslampies vir lig. Ons het ons eie beddegoed saamgeneem want as ons jag dan is mens partykeer lui om te stort voor jy gaan slaap. Die water na die chalets graviteer vanaf die plaasdam. Die water is silwer skoon en proe lekker soet. Die donkie wat die water warm maak is so effektief dat 10 ouens gemaklik kan stort.

Die Lapa is toegerus met 'n kombuis, baas van die plaas se slaapplek, kuier area en 'n eet area. Daar is ok so 'n lekker kroegie wat ons nooit by uitgekom het nie want dis mos lekker daar buite by die vuur. Daar hang mooi trofees in die lapa, onder andere twee Rowland wards - 'n rooihartbees en blouwildebees. In die kroegie is ook 'n surprize waarvan Oom Pieter een aand om die kampvuur vertel het. Dis 'n ernstige storie met vrek baie humor. Ek het my maag seer gelag. Die storie sal julle hom self moet vra.

Klaar afgepak, nou ry ons met Piekenien (Suzuki Vitara met 1400 Nissan enjin) daar na die bos toe. Dis die oomblik waaroor al die beplanning gaan - ons gaan eers so 'n rondte van vader Cloete doen om die plaas te leer ken. Nie vêr nie, kry ons ons eerste rooibokke. Dis 'n mooi troppie met gesonde diere. Ek skat die ooie so 30+Kg aan die hak en die ram seker 40+Kg. Dis sowaar net so groot as die wat by Bandelierkop loop.

Aan die ander kant van die plaas kry ons toe 'n trop Blouwildebeeste. Ek kyk, maar het eintlik beplan om 'n Koedoe koei te skiet. Net toe sien ek 'n moerse groot Blouwildebees bul, ek kan sien hy is seker ten minste 'n voet hoër as die res.

Ek sê vir Oom Pieter hy moet stop. Lukas die gids is ook sommer dadelik by. Ons het 'n hele ent verby gery.
Daar is nie juis veel van 'n windjie nie, so ek en Lukas loop maar stadig in die rigting waar ons die trop gesien het. Dit het vir my gevoel of ons vir ewig geloop het oor die droë blare voor Lukas vassteek en toe sien ek ook die trop.
Ons staan dood stil. Ek skat dis oor die 200 meter. Die wind het intussen liggies van agter af begin trek en die trop kan aanvoel dat daar iets is wat hulle dophou. Ek wys vir Lukas dat ons nader moet gaan. Ek kan nog nie die bul sien nie.
So 100 meter van die trop af gaan sit ons plat op ons agterstewe agter 'n bos. Ek kan net net deur sien. Lukas loer met die verkyker en wys my dat hy die bul sien. Die ou is nie verniet so groot nie. Hy loop agter die trop.
Die trop is besig om te wei, 'n koei kom agter 'n bos uit en gaan staan so 90 meter plankdwars tussen ons en die bul.
Sy is baie onrustig en staan met haar kop in die lug, neusgate wyd oop en snuif in ons rigting. Ek kan hoor hoe my hart hier in my keel klop. Ons sit seker vir 'n half-uur so doodstil en kyk vir die koei. 'n Duikertjie stap so op 50 meter tussen ons en die blouwildebeeste deur. Hy gewaar ons nie. Die koei raak nou rustig en begin wei. Sy stap stadig uit die pad uit van lings na regs. Die bul is nog net 'n groot witgrys kol.
Ek is nou al "high" van die adrenalien. My roer is oorgehaal en ek hou die bul deur my BSA 4x44 scope dop. Ek lê aan oor Lukas se regter skouer. Hy sit voor my. Die bos voor my belemmer my uitsig en ek kan net so een derde van hom sien. Skielik steek die koei weer vas en kyk stip vir ons. Die bul beweeg so twee tree links en draai sy kop na ons toe. Ek is huiwerig want ek weet dat ek moet probeer onder die halfpad merk agter die blad skiet. Dis waar ek die enjinkamer is. My verstand herinner my aan die blouwildebeeste wat ek van tevore geskiet het. Dis 'n taai dier, die arm man se buffel sê party.
Ek kan nie beweeg nie want die koei se vel bewe eintlik so gespanne is sy. Die bul weet hier is iets aan die gang. Dis nou of nooit. Ek kry die beste plek agter die blad, dis nog oor halfpad. Ek moet 'n besluit neem. My oë traan al soos ek kyk.
Ek druk die sneller....ek kan sien hoe spring die bul. Ek weet dis raak. Maar ek worry want dis eintlik te hoog.
Die trop hardloop en die bul is saam. Dis net stof. Albert wil opspring maar ek keer hom. Ek sê vir hom waar ek gemik het en dat ek dink dis te hoog. Ek steek 'n Marlboro aan, ek sien hoe ek bewe, maar dis nie van koue nie want ek sweet.
So halfpad deur die sigaret, ek dink so vier groot trekke, sê ek kom ons gaan kyk.
Ons staan op en begin stadig loop in die rigtig wat ek geskiet het. Dit voel of ek nooit daar gaan uitkom nie. Uiteindelik kry ons die plek waar die bul gestaan het. Ons vat die spoor. Kort voor lank kry ons bloed, dis nie baie nie. Ek worry my gat af. Ons stap....
Ek is verlig toe ons om 'n bos stap en die bul so 30 meter verder sien lê. Ek het hom, dit lyk nie of hy asem haal nie. Ek loop voor, my roer is oorgehaal. Toe ek tot by hom kom trap ek liggies met my voet teen sy rug. Hy's verby. Ek het hom!

http://www.ready2go.co.za/foto/JagteplaasGrootvalleyMei2007/blouwildebees2.html

Ons begin terugstap om die voertuig te soek. Ek fluit, die manne het die skoot gehoor, hulle is reeds op pad. Ek wil terughardloop, want ek is bang die ou het opgespring en weggehol. My kop speel tricks met my. Ons begelei die manne tot waar die bul nog lê.
Oom Pieter is verbaas oor die grootte van die Blouwildebees.
Hulle wens my geluk.

Nou moet ons laai. Daai Vitara lyk maar klein. Drie van ons probeer om die bul gatkant eerste op te laai. Hy is moer swaar. Ons kry hom nie op nie.
Oom Pieter hulle ry kamp toe na ons die bul in die koelte gesleep het. Ek bly alleen agter. Ek bid en sê dankie vir ons Hemelse Vader dat Hy vir my hiedie Blouwildebees gegee het. Ek hoor 'n houtkappertjie in die verte, ag dis lekker om te lewe! Dis lekker in die bos!
Kort voor lank is die manne terug met die block en tackle. Ons sleep die bul na 'n boom en hys hom op met die block en tackle. Ons laat sak die bul versigtig agter op die Vitara. Hy vat baie plek maar hy's op!

http://www.ready2go.co.za/foto/JagteplaasGrootvalleyMei2007/blouwildebees7.html

Ons het klaar geslag en nou wag ons vir Harry Viljoen, my skoolhoof vriend, en sy seun Wihan wat vanaand by ons gaan aansluit.

Ek wil lekker spog, want ek kan....

Die res van ons trip se fotos is by:

http://www.ready2go.co.za/foto/JagteplaasGrootvalleyMei2007/index.html